Loading Events
  • This event has passed.

As deel van die Endler Konsertreeks tree die Antwerpse violis Alissa Margulis op saam met die plaaslike pianis Luis Magalhães, om 8 nm op Saterdag 8 September in die Endlersaal, Stellenbosch.

Beide kunstenaars het weinig bekendstelling in Stellenbosch nodig – danksy hulle voortreflike werk tydens die afgelope Internasionale Kamermusiekfees. Margulis is al uitgesonder vir haar uitdrukkingsvolle en meesterlike spel, en Magalhães het reeds internasionale bekendheid verwerf as solis, konsertpianis en onderwyser.

Die program sluit in Dvorak se Vier romatiese stukke,  Beethoven se vioolsonate op. 47 (Kreutzer), Ysaÿe se Poeme Elegiaque en Prokofjef se tweede vioolsonate.

Dvořak het benewens die simfonie en bekende tjellokonsert, ook heelwat kamermusiek nagelaat – werke waarin die ongekunstelde Tsjeggiese volksmusiek die grondslag vorm vir sy kunsmusiek. Die gewildheid van Beethoven se Kreutzer-sonate is gelyktydig geleë in die stormagtige element, asook die intieme melodiese gehalte. Dit is gepas dat ‘n voorste violis soos Margulis ook ‘n werk van  Ysaÿe ingesluit het – ‘n werk wat dié Belgiese meester se styl ten beste ten toon stel. Uit Margulis se tuisland, Rusland, kom  Prokofjef se tweede vioolsonate, ‘n werk waarin die komponis skynbaar in ‘n meer optimistiese stemming is as elders in sy wydvertakte repertorium.

Share This Story, Choose Your Platform!