Loading Events
  • This event has passed.

Die Endler Konsertreeks bied graag die Fiësta-pryswenner, die Stellenbosch Universiteit se Jazz-orkes aan. Die konsert vind plaas op Vrydag 17 Mei om 8nm in die Endlersaal. Dit is die viering van die orkes se 10de verjaardag en die 20ste verjaardag van die Musiekdepartment se Sertifikaatprogramme. Dit is ‘n mylpaal van twee belangrike inisiatiewe wat, benewens die artistieke en akademiese meriete, gedurende die aafgelope twee dekades grootliks bygedra het tot die proses van verjonging en transformasie aan die Departement.

Die Jazz-orkes is een van die ensembles wat deel vorm van die Sertifikaatprogramme wat in die lewe geroep is om die breër gemeenskap toe te rus met musieklees- en speelvaardighede, en in staat te stel om ‘n BMus- of Diploma op tersiêre vlak te kan begin. Oor die tydperk heen het die orkes ‘n reputasie verkry van energieke konserte, en saamgewerk met kunstenaars soos Sibongile Khumalo, Judith Sephuma, Jannie Moolman, Gloria Bosman, Louis Loock, PJ Powers, Corlea Botha, Amanda Strydom, Timothy Moloi, Tete Mbambisa en Tarryn Lamb – in geheel onder die leiding van Felicia Lesch.

Die konsert betrek alumni van die Jazz-orkes en Sertifikaatprogramme met gunstelinge soos Round midnight, Almost like Being in Love en Ntyilo, Ntyilo, asook treffers uit die Suid-Afrikaanse Jazz-omgewing, met komposisies en bewerkings van Ramon Alexander, ‘n stigterslid wat saam met alumni soos Josh Prinsloo, Annemie Nel, Charl Clayton, Ronnie Siegelaar en Melvin Williams sal optree. Die jazz-ensemble “Just Friends” sal ook teenwoordig wees. Die MAD Big Band sal ook voor die konsert in die foyer optree, onder die leiding van Ash-Lee Louwskieter. Ons kondig met trots aan dat sangers Ricardo de Ruiter, Lunathi Ncamani en Lynette Petersen kragte sal saamsnoer in sommige items.

Kaartjies teen R60 (gewoon) en R40 (studente en pensioenarisse) is tans beskikbaar by Computicket, en ook by die deur. Vir meer inligting skakel met Brent Reynolds by brent@sun.ac.za of 021 808 2343.

Share This Story, Choose Your Platform!