Die Departement Musiek is al sedert sy ontstaan in 1905 (aanvanklik as Konservatorium) bekend vir die goeie gehalte klassieke musiekkonserte waaraan die Stellenbosse gemeenskap gewoond geraak het. Hierdie konsertaanbod het gegroei tot ‘n omvattende konsertreeks wat ‘n verskeidenheid van musiekgenres akkommodeer, insluitende jazz, koor- en operamusiek. Benewens die hoë professionele aansien wat die Endler Konsertreeks geniet, bied dit blootstelling vir universiteitstudente van reg oor die land, maar veral van die Universiteit Stellenbosch. Hierdie omvattende konsertreeks word in ses onderafdelings bemark om ’n diverse en geïntegreerde gehoor te lok, en ten doel stel om die omliggende gemeenskap te verenig, op te hef en te inspireer.

Die Suid-Afrikaanse Komponiste-simposium (SAKS) is ‘n vyfdag fees wat ons land se ryk en diverse musiekerfenis vier. Die symposium, ‘n inisiatief deur die US Komposisie-afdeling, word ondersteun deur die US, die Endlerkonsertreeks en die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, en sal Westerse klassieke werke, Jazz, improvisasie, verskeie installasies, lesingsdemonstrasies, paneelbesprekings en laboratoriums, die bekendstelling van ‘n nuwe akademiese bladmusiek-uitgewer in samewerking met die Flat Mountain Project, en twee eerste komposisiekompetisies in samewerking met die South African Strings Foundation en die Liedmakersgilde insluit.
Vir meer inligting en ‘n volledige program, besoek www.sacomposers.com
Kaartjies beskikbaar op www.webticket.co.za

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees stel dit ten doel om talentvolle jong Suid-afrikaanse musici die geleentheid te bied om te studeer, op te tree en geïnspireer te word deur kamermusiek en orkesspel van ‘n internasionaal erkende, professionele standaard. Hierdie tiendaglange fees plaas Stellenbosch Universiteit en Suid-Afrika op die internasionale musiekkalender as ‘n toonbeeld van uitstaande musikale gehalte en ‘n teelaarde vir jong talent. Die fees fasiliteer die groei van jong musici en skep geleenthede vir hulle om verder te studeer en daarby mildelik by te dra tot Suid-afrika se ryk en diverse kulturele erfenis.

Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium word sedert 2006 elke tweede jaar aangebied deur die Musiekdepartement van Stellenbosch Universiteit. Die hoofdoel van die symposium is om internasionale en nasionale pianiste deur middle van meesterklasse, lesings en konserte bymekaar te bring. In 2012 het die symposium verder uitgebrei deur die Hennie Joubert Klavierkompetisie vir die begaafde jeug van Suid-Afrika opnuut van stapel te stuur en bywoners en leerders ‘n ongeëwenaarde vlak van blootstelling aan topvlak musikale vakmanskap te bied.

Die Universiteit Stellenbosch Toyota Woordfees is a dinamiese viering van teater, musiek, kuns, dans, komedie, bespreking en digkuns. Sy Klassieke Musiekprogram word aangebied by die Konservatorium in samewerking met die Konsertreeks, en spog met ’n uitsonderlike  program van konserte en produksies met internasionale en plaaslike kunstenaars in ’n verskeidenheid musiekstyle en lokale.

In 1983 het die Suid-Afrikaanse klaviervervaardiger Dietman, deur bemiddelling van hul kontak Dr. Manie Rust, ‘n borgskap aan die Wellington Musiekvereniging bewillig vir die bevordering van die uitvoerende kunste. Daar is besluit om die fondse te gebruik om ‘n nuwe klavierkompetisie van stapel te stuur. Joan de Villiers, voorsitter van die Wellington Musiekvereniging, het Hannelie Prinsloo, André Serfontein en Bennie van Eeden gevra om stigterslede van die Dietman Klavierkompetisie te word. Die eerste kompetisie is in 1984 gehou.

Die Universiteit Stellenbosch se Nasionale Ensemble-kompetisie is oop vir alle gemeenskaps-, skool- en universiteitsensembles. Daar is twee kategorieë:  Skoolkategorie (12-18 jaar) en Ope kategorie (19-27 jaar). Die kompetisie se doelwit is die daarstelling van kompetisiegeleenthede vir skoliere en studente, in plaas van ‘n uitsluitlike fokus op solo-voordrag, en dus jonger kunstenaars te ontwikkel deur samewerkende deelname. Die kompetisie het betrekking op ensembles met ‘n wye omvang van musiekgenres, insluitende klassiek, jazz en tradisionele Afrika-musiek.