Loading Events
  • This event has passed.

Mario Nell (orrel) & Lauren Dasappa (sopraan)

Stellenbosse orrelis Mario Nell, en sopraan Lauren Dasappa bied ‘n program aan met komposisies van Sebastian Bach, Mozart en die Suid-Afrikaanse komponis Surendran Reddy. Vanjaar is die 40ste bestaansjaar van die uitmuntende Marcussen-orrel, wat in 1979 in die Endlersaal geïnstalleer is.

Mario Nell open die konsert met Bach se Prelude in Emol-majeur, BWV 552. Die prelude en die fuga omsluit Bach se Clavierübung, en vorm deel van die “orrelmis”. Musikale simbole vir die Heilige Drieëenheid kan gelees word in die drieledigheid van die prelude.

Mozart se kort motet Exsultate, jubilate (K 165) is a bekende sopraangunsteling – veral die afsluitende Alleluia-gedeelte, waarin slegs die enkele woord gebruik word. Die werk dateer uit 1773, maar toon reeds die jong genie se vaardigheid.

Die program sluit ook ‘n uitgebreide orrelwerk van die die Suid-Afrikaner Surendran Reddy in. Reddy se persoonlike styl – deur hom self geïdentifseer as “clazz” – is ‘n versmelting van klassieke beginsels, jazz-elemente en die inheemse mbaqanga en ander elemente uit die sogenaamde “wêreldmusiek”. Reddy se Tokkate vir Madiba, is opgedra aan wyle Nelson Mandela, en bevat ‘n verskeidenheid van inheemse genres soos marabi, kwêla, mbaqanga en township-jazz. Die werk was ‘n opdragwerk in 1997 vir die 1ste  Internasionale Orrelkompetisie in 1998.

As een van Suid-Afrika se voorste musici en onderwysers is Dr Mario Nell tans ook voorsitter van die Musiekdepartement aan die Universiteit van Stellenbosch. As uitvoerende orrelis het hy etlike konsertuitvoerings in Europa onderneem, sowel as Hong Kong en Suid-Korea. Dasappa is ‘n ervare operasanger, benewens oratorium en Barok-werke en die lied.

Die konsert word uitgesaai op Sondag 29 November om 4nm,  en sal aanlyn beskikbaar wees tot  Sondag 6 Desember

 

Program:

J. S. Bach (1685 – 1750)

Prelude in Emol-majeur, BWV 552

 

W. A. Mozart (1756 – 1791)

Exsultate, jubilate, K 165

 

Surendran Reddy (1962 – 2010) *SA

Toccata vir Madiba

 

Kunstenaars:

Mario Nell word erken as een van Suid-Afrika se vooraanstaande uitvoerende kunstenaars en onderwysers en is ‘n Senior lektor aan die Univeriteit van Stellenbosch. Hy studier aan die universiteite van Port-Elizabeth en Stellenbosch voordat hy ‘n MMus behaal aan die Universiteit in Kaapstad asook ‘n PhD aan die Universiteit
van Stellenbosch. Hy behaal twee Voordraeslisensiate van Unisa en word ook aangewys as wenner van die Unisa Oorsese Musiekbeurskompetisie. Vanaf 1999-2001 studeer hy aan die Staatliche Hochschule für Musik in Freiburg, Duitsland, en vanaf 2006-2007 studeer hy aan die Zürich Universiteit vir die Kunste waar sy hoof fokus op Historiese Uitvoeringsprakyk was. Hy ontvang eerste pryse by al die vernaamste musiekkompetisies in Suid-Afrika. Dit sluit in die Nasionale Jeugmusiek- die ATKV Prelude and Forte-, Mabel Quick-, Oude Meester- en Unisa Oorsese Musiekbeurs Kompetisies. Gedurende sy studies in die buiteland ontvang hy pryse tydens verskeie internasionale kompetisies, waaronder ‘n eerste prys tydens die Calgary internasionale orrelkompetisie met optredes in Duitsland en Hong Kong. Sedert hy sy debuut gemaak het met die SAUK simfonie Orkes in 1993, het hy as solis opgetree met al die vernaamste simfonie orkeste in Suid-Afrika. Sedert 1999 het hy konsert optredes gehad in Duitsland, Switzerland, Frankryk, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Italië, Engeland en Suid-Korea. Benewens sy optredes as solis, begeleier en kamermusiekspeler, is hy aktief as onderwyser en sy studente is reeds as algehele wenners van al die vernaamste musiekkompetisies in Suid-Afrika aangewys. Vanaf 2010-2014 ontvang hy jaarliks die Universiteit van Stellenbosch se Rektorstoekenning as uitstaande dosent. Hy word gereeld genooi om meestersklasse aan te bied, om as beoordelaar op te tree en tree op as eksaminator vir Unisa musiekeksamens.

 

Lauren Dasappa, gebore in Durban, is ’n dinamiese en toegewyde musikale kunstenaar wie se uitvoerings gehore diep raak en tot mense van alle agtergronde spreek. Dasappa het verskeie operarolle vertolk, insluitende gevierde optredes as Papagena in Mozart se Die Towerfluit en Grietjie in Humperdinck se Hansie en Grietjie. Verder het sy ook in heelwat oratorium- en barokuitvoerings opgetree. Dasappa handhaaf ’n uitgebreide konsertrepertorium van standaard- en moderne werke en wy haarself veral aan die herlewing van kunslieduitvoering in Suid-Afrika.

Lauren Dasappa verskyn gereëld saam met filharmoniese orkeste landswyd en het gevolglik by groot nasionale en internasionale geleenthede opgetree. Hoewel klassiek opgelei, beperk sy haarself nie net tot hierdie genre nie. Buitendien blink sy op die terrein van populêre musiek uit en is reeds as voorgraadse student ’n internasionale opnamekontrak deur Universal Studios aangebied. Sedert haar aanstelling as sangdosent by die Universiteit van Stellenbosch in 2014 het Dasappa reeds verskeie kere plaaslik opgetree, onder andere as sopraansolis in Mendelssohn se Elija en Brahms se Ein Deutsches Requiem. Haar optredes sluit solo-uitvoerings en uitvoerings saam met ander kunstenaars in.

Dasappa bied vokale werksessies aan en rig vokale ensembles en soliste vir groot produksies af. Sy is ook ‘n gerespekteerde beoordelaar en eksaminator by kunswedstryde en universiteite. Haar toewyding as kunstenaar en leermeester vind nie net neerslag in haar eie konsertloopbaan nie maar ook in die uitstekende prestasies van haar studente.

Share This Story, Choose Your Platform!