Loading Events
  • This event has passed.

Die Prestige-reeks van die Endler Konsertreeks stel graag die Suid-Afrikaanse Prestige-klaviertrio bekend, wat op Sondag 15 September om 4:30 nm. in die Endlersaal optree. Violis Pieter Schoeman – konsertmeester van die Londense Filharmonie – het huis toe gekom om met die gewilde plaaslike pianis Albie van Schalkwyk en tjellis Anmari van der Westhuizen op te tree.

Die program sluit in klaviertrios van Rachmaninof, Mendelssohn en Brahms. Rachmaninof se Trio élégiaque Nr.1 dateer uit die komponis se jeugjare, maar is reeds taamlik verteenwoordigend van die komponis se ryp meesterstyl. Mendelssohn se Trio Nr. 1 in d-mineur is deur sy tydgenoot Robert Schumann as ‘n “meesterlike” werk van die tyd beskryf. Dit is een van Mendelssohn se gewildste kamermusiekwerk, en word gereken saam met komposisies soos sy populêre Oktet.  Brahms se Klaviertrio in c-mineur (op. 101) is tegelyk ernstig en liries – ‘n grootse en intieme werk, wat Brahms se meesterskap van die kamermusiekidioom noukeurig definieer.

As ‘n gebore Suid-Afrikaner het Schoeman sy debuut as tienjarige saam met die Kaapstadse Simfonieorkes gehad. Hy was ‘n leerling van Jack de Wet, en was die wenner van etlike kompetisies, insluitende die Wêreld Jeugconcerto-kompetisie in 1984. Pieter het reeds wêreldwyd opgetree as solis. As kamermusikus tree hy gereed op in die Londense Wigmore Hall. Hy is in 2002 aangewys as assistent-konsertmeester van die Londense Filharmonie, en in 2008 as konsertmeester.

Anmari van der Westhuizen is medeprofessor en hoof van die Odeion Strykkwartet aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy het aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer, daarna ook die Grosses Diplom (cum laude) van die Salzburgse Mozarteum verwerf, en opleiding van Maria Kliegel aan die Keulense Hochschule für Musik ontvang. In 2013 het Anmari ‘n PhD aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en volle akademiese kleure vir haar dissertasie ontvang. Tydens haar verblyf in Europa het sy gereeld as solis en kamermusikus opgetree, en was ‘n permanente lid van die Koehne-kwartet.

Albie van Schalkwyk is nie alleen ‘n solis in eie reg nie, maar ook een van die leidende plaaslike kamermusici en klavierbegeleiers. Gedurende sy indrukwekkende loopbaan het hy beide UNISA se Buitelandse Stipendium en die eerste prys in die SAUK-Klavierkompetisie verower. Afgesien van sy opleidingsloopbaan aan die Universiteit van Kaapstad, is Van Schalkwyk bekend vir sy meesterklasse vir sangers en begeleiers, en het ook musiekproduksies behartig en begeleidingswerk vir die SAUK verrig. Hy was ook ‘n lid van bekende plaaslike ensembles, meer spesifiek van die Liedmakersgilde, wat aan voordraers die geleentheid bied om in lieduitvoerings deel te neem.

Kaartjies teen R160 (gewoon) en R120 (studente en pensioenarisse) is tans beskikbaar by Computicket, en by die deur. Vir meer inligting skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.

 

 

Share This Story, Choose Your Platform!