Amptelike Opening van Decoda Instituut in SA
24 June 2017 @ 8:00 pm - 10:00 pm
| R100 – R140Die Endler Konsertreeks in samewerking met die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees is die gashere met die amptelike opening van die DISA – DECODA Instituut (Suid-Afrika), op Saterda 24 Junie om 20h00 in die Endlersaal, Stellenbosch.
DECODA is die geaffilieerde ensemble van die Carnegie Hall, daardie ikoniese musiekruimte in die hart van New York. Die DECODA-ensemble het reeds wêreldwyd aandag getrek. Afgesien van hulle uitvoerings het hierdie musici ook ‘n uitsonderlike musiekopvoedingsprogram ontwikkel, waardeur studente geleentheid kry om hulle artistieke en kommunikatiewe vaardighede te slyp en aan gehore bekend te stel.
Die eerste plaaslike byeenkoms van die DECODA-Instituut sal in samewerking met die Kamermusiekfees tussen 24 en 28 Junie plaasvind, waarna DECODA-lede, soos die hobospeler, James Austin Smith, sal aanbly as lede van die 2017-Kamermusiekfees.
Op 24 Junie sal Smith vergesel wees van ‘n kontingent internasionale spelers, waar onder Catherine Gregory (fluit), Alicia Lee (klarinet), Brad Balliett (fagot), Laura Weiner (Horing), Siwoo Kim (viool), Meena Bhasin (altviool), Sæunn Thorsteinsdóttir (tjello) en Kris Saebo (kontrabas), in ‘n uiteenlopende programsamestelling, met werke van Mendelssohn, Ligeti, Ravel, Gould, Prokofiev, en na die pouse Brahms se Serenade in D Major, Op. 11.