Band Extravaganza met Universiteit Stellenbosch Simfoniese Blaas Ensemble
5 May 2017 @ 8:00 pm - 10:00 pm
| R30 – R50As deel van die Endler Konsertreeks is die Universiteit van Stellenbosch se Simfoniese Blasersensemble (USSB) weer aan die beurt met hulle jaarlikse Band Extravaganza, op Vrydag 5 Mei, om 20h00. Dié geleentheid, wat aangebied word in samewerking met gemeenskapsvennote is gewy aan ‘n aandprogram met verskillende ensemble-kombinasies.
Die gewilde Weskaapse mars-idioom, gekoppel aan die Suid-Afrikaanse tradisie van “veldorkeste” kan miskien gesien word as die ideale medium vir die betrokkenheid van ‘n verskeidenheid amateur- en professionele musici ter wille van ‘n volkome inklusiewe musikale ervaring.
Orkeste wat optree sluit in die Wynberg Seuns- en Meisieskole se Hoërskool Konsertorkes, en die Durbanville en Bellville Hoërskole se Simfoniese Blasers. Dié ensembles staan respektiewelik onder die leiding van oud-Maties Peter Catzavelos, Suretha Theron en Riaan van Wyk. Nuwelinge sluit vanjaar in die SACS Hoërskoolorkes (met Levi Alexander as leier) en die Musica Perpetua Blaasorkes van die gekombineerde Paul Roos Gimnasium en en Bloemhof Hoërskool, onder leiding van Renaldo Wales. Die USSB se bydrae sluit in populêre items soos The Force Awakens (Star Wars!), en Caught By The Horns – vir horingkwartet en orkes – La Virgena da Macarena, soos verwerk deur die bekende Canadian Brass-groep (met trompetspeler Chico Munoz en klarinettis Ferroll-Jon Davids) en Fiddle Fiddle, met Dylan Tabisher en die marimba. Die USSB staan onder die leiding van Pamela Kierman en Reghardt Kühn.