Loading Events

Gianni Schicchi – waarskynlik Puccini se gewildste buffo-karakter – besoek die Endler-verhoog! Hierdie slinkse en vindingryke bedrieër se hulp word deur die naasbestaandes ingeroep wanneer hulle vasstel dat die die pas afgestorwe oom Buoso sy skatte aan die kerk bemaak het. Origens is Schicchi se dogter Lauretta gretig om Buoso se nefie Rinuccio tot ‘n huwelik te bring: in haar aria O mio babbino caro oortuig sy haar pa om in te stem.

Familie-vetes, ‘n vervalste testament en ‘n goeie skeut humor maak hierdie blyspel wat in geheel op die Endler-verhoog aangebied word, ‘n moet. Die sang-afdeling, huidige en alumni-studente van die Konservatorium staan onder die leiding van José Dias, met Magdalene Minnaar as ervare verhoogleier. Fiona Du Plooy is verantwoordelik vir die nodige choreografiese aksent in hierdie produksie van Puccini se altyd   gewilde buffo-opera.

Hou asseblief in gedagte dat die huidige beperkings vir lewendige konserte slegs 100 persone in die Endlersaal toelaat. Alle veiligheidbepalings van die Universiteit sal streng nagekom word ter beskerming van ons studente, personeel en patronate.

Die konsert vind plaas op Saterdag 20 November om 7 nm. Kaartjies teen R100 (gewoon) en R80 (pensioenarisse en studente) is tans beskikbaar by Computicket, en by die deur een uur voor konsertaanvang. Kredietkaartfasiliteite en SnapScan-betalings is beskikbaar. Vir meer inligting skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.

Share This Story, Choose Your Platform!