Loading Events

Die Kaapstadse Kamermusiekprojek is in die lewe geroep deur ‘n groep plaaslike musici, wat onlangs met hulle konsertreeks in en om Kaapstad begin het. Summer Nights is reeds hulle tweede projek, en is geïnspireer deur die musiek self wat hulle vir dié konserte beoog. Een so ‘n werk is Barber se Summer Music vir houtblaaskwintet.  Dit is oorspronklik beplan as ‘n septet, maar het eers sy finale vorm gevind in hierdie eendelige werk, wat gedeeltelik op die komponis se ouer musiek baseer. Barber, wat roem verwerf het met sy gedrae Adagio vir strykers, het hier ietwat wegbeweeg van daardie werk se ernstige toon: dit is al beskryf as bewegend tussen ‘n luierige liriek en beweeglike kontrapunt. Saam met Copeland en Schuman geld Barber as ‘n belangrike Amerikaanse komponis, wat onder meer tegnieke uit die jazz-sfeer gebruik.

Berlioz se Les nuits d’été was oorspronklik ‘n klavierbegeleide liedsiklus, wat egter later van orkestrale begeleiding voorsien is. Dit is een van Berlioz se gewildste werke, en baseer op die laat-romantiese gedigte van Théophile Gautier. Die program maak ook voorsiening vir die eerste uitvoering van ‘n werk van die Suid-Afrikaanse pianis Paul Hanmer, aangevra deur die projeklede.

Die uitvoerende kunstenaars is Lynelle Kenned (sopraan), Liesl Stoltz (fluit), Joshua Frank (hobo), Shannon Thebus (horing), Cameron Williams (klarinet) en Brandon Phillips (fagot).

Hou asseblief in gedagte dat alle lewendige uitvoerings slegs voorsiening maak vir ‘n maksimum van 150 luisteraars in die Endlersaal. Die Universiteit se veiligheidsprotokolle is ook hier van toepassing.

Kaartjies teen R140 (gewoon) en R100 (pensioenarisse, studente, en skoliere) is nou beskikbaar by Computicket, en by die deur ‘n uur voor konsertanvang. Vir meer inligting kan met Fiona Grayer by   concerts@sun.ac.za of 021 808 2358. In verbinding getree word. Besoek ook www.capechambercollective.com vir meer inligting.

Share This Story, Choose Your Platform!