Loading Events

Die Endler Konsertreeks bied graag jong kunstenaars Chris Njapha (tjello) en Caron Tremble (klavier).

Sicelo Christopher Njapha het die BMus-graad in 2020 van die Universiteit van Stellenbosch behaal, waar hy tjello onder leiding van Babette Roosenschoon gestudeer het. Hy was hooftjellis van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes, asook lid van die US se Simfonieorkes. Chris het onlangs ‘n gedeelde beurs ontvang vir studie aan die gevierde Manhattan Musiekskool in New York, om in September vanjaar daar aan te meld vir studies by Marion Feldman.

Caron Tremble is tans ‘n ingeskrewe MMus-klavierstudent aan die US, onder leiding van Prof Nina Schumann. In 2017 is sy aangewys as die wenner in die jaarlikse Lionel Bowman Beethoven-kompetisie, en die US se Mabel Quick-prys vir instrumentale musiek. In 2019 het sy deelgeneem aan die Concours International de Piano in Ville de Gagny, Frankryk, en ook aan die plaaslike UNISA Nasionale Klavierkompetisie.

Chris en Caron sal bekende werke uit die tjello-repetorium aanbied, insluitende drie dele uit Sebastian Bach se sesde solo-tjellosuite, ‘n deel uit Boccherini se tjellosonate in A-majeur, Sjostakowitsj se tjellosonata, Cassado se solosuite en Paganini se Variasies vir tjello.

Alhoewel Chris ‘n gedeeltelike borgskap kon kry vir sy studies in die VSA, is daar steeds ‘n beduidende bedrag uitstaande wat hy nog moet vind en hy sal enige ondersteuning waardeer.  Jy kan hom  ondersteun deur ‘n kaartjie vir die konsert te koop of deur ‘n skenking te maak tot sy fondsinsamelingsprojek by hierdie skakel: : http://bit.ly/chrismastersinmanhattan.

Hou asseblief in gedagte dat veiligheidsprokolle  en bepalings streng nagevolg sal word, en dat die getal luisteraars in die Endler tot ‘n maksimum van 100 beperk word. U veiligheid en die van ons studente en patronate is ‘n prioriteit.

Die konsert vind plaas op Vrydag 28 Mei om  7nm. Kaartjies teen R120 (gewoon) en R80 (pensioenarisse en studente) is nou beskikbaar by Computicket, en by die deur ‘n uur voor aanvang. Kredietkaartfasiliteite en SnapScan-betalings is ook moontlik. Vir meer inligting skakel  Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.

Share This Story, Choose Your Platform!