Megan-Geoffrey Prins met werk van Johan Cloete
19 October 2019 @ 3:30 pm - 5:30 pm
| R100 – R140Die Endler Konsertreeks, in samewerking met die Irma Stern-museum bied ‘n uitvoering aan met die Suid-Afrikaanse pianis Megan-Geoffrey Prins gewy aan die werk van die Suid-Afrikaanse komponis Johan Cloete. Johan dra hierdie konsert op aan Victor Tichardt en Sonja Canto.
Prins het reeds ‘n hoë aansien verwerf as pianis met ‘n merkwaardige tegniese vaardigheid en ‘n oorweldigende musikale aanvoeling. Hy is ook aangewys as vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaar in Klassieke Musiek.
Johan Cloete was ‘n student aan die universiteite van Kaapstad (BMus 1980, MMus 1985) en Stellenbosch. In 2010 het hy ‘n DMus in Komposisie aan die Universiteit van die Witwatersrand, onder Jeanne Zaidel-Rudolph, voltooi. Sy komposisies dek ‘n wye spektrum van genres, insluitend gewyde musiek, kamermusiek en orkeswerke. Sy musikale styl toon sterk mistieke elemente, wat ‘n spesiale karakter aan die musiek verleen. Sy belangstelling in die okkulte, die surrieële en die bonatuurlike word in sy musiek gebalanseer deur ‘n gedissiplineerde intellektualisme; ‘n styl wat beide intuïtief en intellektueel is.
Benewens werke van Debussy en Liszt, sal Prins Cloete se Piano I, Piano IV en Klipklavier uitvoer. Die konsert vind plaas op Saterdag 19 Oktober om 3:30nm by die Irma Stern-museum, Rondebosch, Kaapstad.
Kaartjies teen R140 (gewoon) en R100 (studente en pensioenarisse) is tans beskikbaar by Computicket, en by die deur. Vir meer inligting skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.