Loading Events

Orreluitvoering

Louis van der Watt

J. S. Bach Programnotas: Prelude en Fuga in Eb, BWV 552 uit die Clavierübung, Deel III

JS Bach se Clavierübung (“Klawerbord-Oefening/-Praktyk”) Deel III is die mees omvattende gepubliseerde werk wat hy in sy leeftyd uitgegee het (1739, hoewel hy klaarblyklik reeds teen 1735 begin werk het aan hierdie projek). Dit is ook die enkele belangrikste bundel van orrelwerke wat hy saamgestel het. (Sy Clavierübung Deel I, II en IV is al drie geskryf vir klawesimbel, en bestaan onderskeidelik uit die 6 Partitas, die Italiaanse Konsert asook Overture in die Franse styl, en die Goldberg-variasies.) Die bekende Bach-geleerde Christoph Wolff stel dit soos volg: “In [the Clavierübung] part III, Bach created not only his most extensive but also his most significant organ work.”

Die matriks van die Clavierübung Deel III is Luther se Koraalberymings van die leerstellinge van die Reformasie soos wat dit ook in sy Groot en Klein Kategismus behandel word, byvoorbeeld die leerstuk van die Drie-eenheid, die Tien Gebooie, die Doop, ensomeer.  Dit staan ook in noue verband met die liturgiese verloop van die Lutherse erediens met sy onderskeie liturgiese momente soos skuldbelydenis, geloofsbelydenis, die Onse Vader-gebed, ens. In die woorde van Charles Sanford Terry: “Bach’s purpose in it was, to illustrate the Lutheran Catechism by Preludes treating the melodies of Luther’s familiar hymns on the Commandments, Creed, Prayer, Baptism, Penitence, and Holy Communion, prefacing his exposition of Lutheran dogma with a triple invocation of the Trinity…” Bach se bundel is dus is ‘n weergawe en vertolking in klank van hierdie sentrale leerstellings van die Reformasie, vervat in 21 (7×3) koraalvoorspele.

Hierdie bundel verteenwoordig nie net die kulminasiepunt van alle tegnieke, genres en style vir die orrel nie, maar kan ook gesien word as Bach se persoonlike geloofsbelydenis. Hermann Keller maak byvoorbeeld die volgende waarneming: “In keinem anderen Orgelwerk fühlen wir Bach so als musikalischen Verkünder und tiefen Deuter der Grundlehre des Luthertums wie hier” (In geen ander orrelwerk ervaar ons Bach so as musikale verkondiger en diepgaande interpreteerder van die grondslae van Lutheranisme soos hier nie).

Die Prelude en die Fuga BWV 552 staan respektiewelik aan die begin en aan die einde van die versameling werke, en is niks anders nie as Bach se interpretasie van die Drie-eenheid. Die toonaard is Eb majeur (3 toonsoorttekens), die Prelude bestaan uit 9 (3×3) subseksies, en die Fuga uit 3 fugale subseksies. Die totale aantal werke in die versameling as die Prelude en Fuga ingesluit word, is 27 (3x3x3).

Al die noemenswaardige Bach-geleerdes is dit eens oor hierdie Prelude en Fuga. Hermann Keller noem dit “een van die blinkste juwele” van Bach se kuns. Philipp Spitta bestempel dit as een van Bach se “stupendous creations, in which [is] embodied the highest qualities that Bach could put into this branch of art.” Albert Riemenschneider merk spesifiek oor die fuga op: “[It] is without doubt one of his most marvellous creations.” Hubert Parry het die volgende te sê: “The Fugue is certainly one of the most perfect and finished of Bach’s works of the kind…manifesting a gradual growth of complexity and vivacity up to the majestic and imposing close.”

‘n Kort bespreking oor Bach se vertolking van die leerstuk van die Drie-eenheid soos wat hy daaraan verklanking gee in die Fuga sal plaasvind tussen die uitvoering van die Prelude en die Fuga.

Share This Story, Choose Your Platform!