Paulina Malefane Sanguitvoering
4 March 2022 @ 7:00 pm - 9:00 pm
| R100 – R140Die Endler Konsertreeks bring graag onder jou aandag: sopraan Paulina Malefane in konsert saam met pianis José Dias op Vrydag 4 Maart om 7 nm in die Endlersaal, Stellenbosch.
Paulina Malefane het in 2005 bekendheid verwerf met die produksie U-Carmen eKhayelitsha – ‘n aanpassing van Bizet se Carmen – wat sy geskep, afgerig en die hoofrol daarin vertolk het. Met slegs drie weke om haar vir dié taak voor te berei as plaasvervanger van die oorspronklike kunstenaar, het sy die musiekwêreld aan die praat gehad. In die Londense Observer is die produksieaangeprys as “… the Carmen by which others should be measured”.
Na voltooiing van die Voordraersdiploma in musiek aan die Kaapstadse Musiekkollege het sy sedert 2000 betrokke geraak by die Isango Ensemble, waarvan sy tans mede-direkteur is. Die hoofdoel van die ensemble is die korrigering van die probleem van verteenwoordiging van minderheidsgroepe deur die skepping van ‘n ruimte waarin Suid-Afrikaners kan kennis maak met die verhooglewe. Sy is ook ‘n voorstander van The Global Fund to Fight AIDS, Tuberculosis and Malaria. Sy is tans dosent in stemstudies aan die Musiekkollege.
Paulina word in die konsert begelei deur die Portugees-gebore pianis José Dias, wat lank reeds ‘n bekende by plaaslike gehore is, en gereeld optree in alle konsertsale en by kunsfeeste. Dias is hoog in aanvraag as solis, kamermusikus, sangbegeleier en stemtutor. Hierbenewens is hy ook deeltydse dosent aan die Musiekdepartement van die Universiteit van Stellenbosch, waar hy behulpsaam is by die sangafdeling en koordirigering.
Op die program is Liszt se roerende toonsettings van liefdesgedigte van die Italiaanse Renaissance, naamlik drie van Petrarca se sonnette, wat uitdagings aan beide sangeres en begeleier bied. Die gehoor kan ook uitsien na ‘n kennismaking met John Daniels Carter se unieke toonsettings van bekende Amerikaanse spirituals in sy Kantate, asook uitsoek-uittreksels uit George Gershwin se opera Porgy and Bess.
Hou asseblief in gedagte by alle lewendige aanbiedings daar ‘n beperking van 100 luisteraars in die saal is, en dat alle veiligheidsprotokolle van die Universiteit streng nagevolg word.
Kaartjies teen R140 (gewoon) en R100 (pensioenarisse, studente en skoliere) is tans beskikbaar by Computicket en by die deur ‘n uur voor aanvang. Vir meer inligting skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.