Rising Stars Jacqueline Martens (viool) & Sulayman Human (klavier)
18 April 2017 @ 8:00 pm - 10:00 pm
| R80 – R120Die Endler Konsertreeks bied met trots aan die jongergeslag kunstenaars Jacqueline Martens (viool) en Sulayman Human (klavier) op Dinsdag 18 April om 20h00 in die Endlersaal.
Suid-Afrikaner Jacqueline Martens speel reeds sedert haar vyfde jaar viool. Sy is tans ‘n vierdejaarstudent aan die Royal College of Music, Londen, waar sy ook beoog om aanstaande jaar met meestersgraadstudies te begin. Sy is die leier van die London Firebird Orkes, en ad hoc-speler van die Londense Filharmonie, die Birmingham Filharmonie, en die Europese Jeugorkes.
Sulayman Human was in 2010 die jongste wenner van die Lionel Bowman Beethovenbeurskompetisie – tot op hede die enigste wenner terwyl hy nog op skool was. Sedertdien was hy die wenner in verskeie kompetisies soos die Hennie Joubert-, Kunstekaap-, Atterbury- en SACS-kompetisies. Hy was ook ‘n semifinalis by die Unisa Nasionale Klavierkompetisie (2015), finalis van die ATKV Musiekkompetisie en tweede prys in die Olive Lieberz Nasionale klavierkompetisie. Sulayman is tans ingeskryf vir die meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch.
Dié duo sal ‘n wye verskeidenheid werke aanbied, waar onder vioolsonates van Richard Strauss en Beethoven, Mozart se Adagio, K.261, asook Massenet se gewilde Meditation en Saint-Saens se Inleiding en Rondo Capriccioso.