Loading Events

Die Endler Konsertreeks gee op Sondag 18 Junie om 16h30 aan opkomende Suid-Afrikaanse kunstenaars Ané van Staden (viool), Visser Liebenberg (klarinet), en Misha Melck (klavier) ‘n verdiende uitvoeringsgeleentheid in die Endlersaal.

Die ensemble se “Contrast Project” is ‘n konsert met kamermusiek van Khatsjaturjan, Milhaud, Bartók en Strawinski. Hierdie ensemble-werke dateer uit die 1930s, en is unieke voorbeelde van kamermusiek met elemente van Hongaarse en Roemeense volksmusiek, grepe uit die wêreld van jazz, en verskillende klanksamestellings. Luisteraars kan musikale elemente soos ritmiese spelerigheid, politonaliteit, improvisasie en ‘n verskeidenheid stemminge verwag.

Klarinettis Visser Liebenberg is ‘n veelsydige speler, met ‘n MMus-graad in voordragkuns van die Universiteit van Stellenosch. As ‘n vryskutspeler is hy tegelyk solis, kamermusikus en ad hoc-klarinettis vir die Kwazulu-Natal Filharmonie en die Kaapstadse Filharmonie.

Ané van Staden (neé du Toit) is ‘n toegewyde violis en onderwyser, eweneens ‘n MMus-graduanda (cum laude, UP 2015). Sy het etlike pryse verower, wat haar in sataat gestel het om verdere studies in Engeland te onderneem.

Misha Melck het reeds met klavieronderrig op sewejarige ouderdom begin, en sedertdien verskeie plaaslike en internasionale pryse verower, en plaaslik en in die buiteland orkesoptredes gehad. In 2016 is die UNISA Lisensiaat-beurs vir buitlandse studie aan haar toegeken, wat gelei het tot besoeke aan musiekfeeste en bywoning van meesterklasse in Londen, Oostenryk, Duitsland en Switserland.

Share This Story, Choose Your Platform!