Loading Events

As deel van die Endler Konsertreeks tree drie Konservatorium-alumni op in ‘n trioprogram getiteld Samba, Salsa and Spice. Die musici – David Bester (viool), Myles Roberts (fluit) en Sulayman Human (klavier) – se uitvoering vind plaas op Sondag 8 April om 16h30 in die Endlersaal, Stellenbosch.

Die program is ‘n verkenning van die swoele klanke van die bekendste Latyns-Amerikaanse komponiste Villa-Lobos en Piazzolla, asook die Italianer Nina Rota. Ander werke is die Tsjeggiese Martinu se Madrigaal-sonate, en die Suid-Afrikaner Hendrik Hofmeyr se Lied van die Somerwind en Il poeta e l’usignola. Die program is ‘n mengeling van solo- en ensemblemusiek, wat die luisteraar insae gee in ‘n verskeidenheid van kamermusiekitems, met toeligting deur die musici.

Violis David Bester is ‘n dosent aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth. Hy het onder Alissa Margulis (België) en Suzanne Martens (Stellenbosch) gestudeer. Bester het reeds saam met die Filharmoniese orkeste van Kaapstad, KwaZulu Natal, en Gauteng opgetree, asook met die Kamerorkes van Namur, en die Amici-tsrykkwartet.

Myles Roberts het sy opleiding begin met Vesna Milakovic, en sy Meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch onder die leiding van prof. Corvin Matei voltooi. Hy het in Suid-Afrika ‘n aantal toekennings ontvang, en ook ‘n spesiale toekenning as uitstaande fluitis van die  Galway Festival in 2015 ontvang, waar hy ook lesse by James Galway ontvang het. In 2015 het hy ingeskryf by die Civica Scuola de Musica de Claudio Abbado, en onderring van Raffaele Trevisani ontvang.

Sulayman Human se klavieronderrig het op 12-jarige ouderdom begin. In 2010 was hy die jongste wenner van die Lionel Bowman Beethoven-beurskompetisie. Daarna was hy ook die wenner van die Hennie Joubert Klavierkompetisie, die Kustekaap Jeugmusiekkompetisie, die Atterbury Klavierkompetisie, die SACS-kompetisie, semi-finalis tydens die 2015 Unisa Nasionale Klavierkompetisie, tweede prys (Olive Lieberz Klavierkompetisie), en in 2017 die ontvanger van die FMR-beurs, asook die algehele wenner van die  ATKV Muziq-kompetisie.

Kaartjies: R140 (gewoon) en R100 (studente en pensioenarisse) beskikbaar by Computicket en by die deur.  Vir verdere inligting, skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of tel.  021 808 2358.

Share This Story, Choose Your Platform!