Loading Events

Die hoog aangeskrewe Signum Kwartet maak hul Suid-Afrikaanse debuut by die Woordfees in 2018.

Natuurlike musikale en programmatiese konneksies is deurslaggewend in die samestelling van ‘n program, sê Xandi van Dijk, die groep se altviolis. “Ons is ook baie lief daarvoor om kontemporêre werke by ons program in te sluit, en ons hoop die gehoor vertrou ons in hierdie opsig.”

Hy sê die Kwartet streef na ’n eenvormigheid in klank en interpretasie. “As ‘n groep is ons interpretasies baie energiek, passievol en sonder kompromie.”

Suid-Afrikaans gebore Xandi is vir die afgelope tien jaar deel van die Signum Kwartet. He skryf hul sukses en gewildheid toe aan harde werk. “En nóg harde werk! Daarmee saam ’n skeut goeie geluk en om op die regte plek op die regte tyd te kon wees.”

Konsertgangers kan uitsien na ‘n program ryk in variëteit. “Van die mees delikate, persoonlike uitdrukkings (Schubert) tot by die uitermatig teatrale (Widmann).”

Hulle sal ook ‘n werk deur Xandi se pa, komponis Péter Louis van Dijk, ter viering van sy 65ste verjaardag. ‘Iinyembezi’ (‘trane’ in Xhosa) is geïnspireer deur John Dowland se ‘Flow my Tears’. “Dit is ‘n werk waarmee ek sterk identifiseer, en dit is altyd ‘n ervaring om dit te speel en hoor. Gebaseer op Dowland se Lachrimae Antiquae (wat ons ook gaan speel), is dit ’n elegiese stuk, maar ook met energieke, maniese losbarstings.” Die Universiteit van Kaapstad Kwartet, waarvan Xandi deel was, het dit vir die eerste keer in 2000 in Amsterdam uitgevoer. In die vyf jaar wat hy in die Sontonga Kwartet was, het hulle dit ook menigmaal uitgevoer. “Signum het dit ook oraloor gespeel in ons laaste seisoen.”

Die program sluit ook die Suid-Afrikaanse premiere in van Jörg Widmann se Derde Kwartet, die Jagdquartett, drama opsigself.

Share This Story, Choose Your Platform!