STELLENBOSCH INTERNASIONALE KAMERMUSIEKFEES
30 June 2017 @ 12:00 am - 9 July 2017 @ 12:00 am
Die veertiende Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) vind vanaf 30 Junie tot 9 Julie by die Stellenbosch Konservatorium plaas. Die Konservatorium is die tuiste van die Departement Musiek aan die Universiteit van Stellenbosch en die SIKMF is beslis een van hulle mees hoogaangeskrewe projekte – ’n projek van hoop, wêreldklasonderrig en -uitvoerings, en diversiteit.
Vir die konsertgangerspubliek is die fakulteitskonserte wat saans plaasvind, ’n hoogtepunt, nie net van die SIKMF self nie, maar ook op die Suid-Afrikaanse klassiekemusiekkalender as geheel. Plaaslike konsertgangers sal moeilik ’n meer inspirerende en gekonsentreerde konsertreeks vind waarin nuwe musiek naas gunstelinge van die standaardkamermusiekrepertorium geplaas word – alles uitgevoer deur ’n fakulteit wat musici insluit van die kaliber van Daniel Rowland, Alissa Margulis, en Nicolas Dautricourt (viool), Alexander Buzlov, Thomas Caroll, en Peter Martens (tjello), James Austin Smith (hobo), ’n aantal hoofspelers van die MET Opera-orkes in New York, en Nina Schumann en Luis Magalhães van TwoPianists, om net ’n paar te noem.
Komponiste sluit Vivaldi, Mendelssohn, Schönberg, Sjostakowitsj, Piazzolla, Mozart, Liebermann, Brahms, Sibelius, Saint-Saëns en Kapustin in. Die lewende komponis waarop gefokus word, is die Suid-Afrikaansgebore Robert Fokkens, wat tans in die Verenigde Koninkryk woon. Maestro Daniel Raiskin, terug op algemene aandrang, sal die Fees-Simfonieorkes dirigeer in ’n program wat insluit Rimsky-Korsakov se opwindende vertoonstuk vir orkes, Scheherazade. Die soliste, Billy Hunter (trompet) en Tatjana Masurenko (altviool), sal onderskeidelik Arutunian se trompetkonsert en Walton se altvioolkonsert speel. Die Nederlandse maestro, Joost Smeets, sal Bizet se Carmensuites met ’n Fees-Konsertorkes van meer as 150 deelnemers dirigeer!
Vir sowel ’n volledige lys van uitvoerende kunstenaars as gedetailleerde aandprogramme, besoek www.sicmf.co.za. Kaartjies is nou by Computicket te koop, en as tendense van vorige jare voortgesit word, is dit wys om vroegtydig te bespreek, aangesien kaartjies vir die optredes uitverkoop sál word. Vir verdere inligting rakende kaartjies, kontak Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of (021) 808 2358.