US Koor Galakonsert
5 May 2018 @ 8:00 pm - 10:00 pm
| R100 – R140Die US Koor is een van Suid-Afrika se mees gerekende jeugontwikkelingsprogramme en koorgeselskappe. Deur die loop van die afgelope 82 jaar het dié universiteitskoor die groot veranderinge in ons samelewing weerspieël en vandag is dit ’n toonbeeld van die vermoë wat musiek het om diversiteit oor alle grense heen te laat harmonieer.
Ná hul deelname aan die Wêreldkoorspele in Riga in Latvia in Julie 2017, was die US Koor vir die vyfde agtereenvolgende jaar nommer een op Interkultur se ranglys van 1 000 internasionale kore.
Die wêreld se topkoor tree verskeie keer binne die volgende maand in die Endler-saal, Stellenbosch, op:
25 April (18:15 vir 19:00) | Fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van Wineland Dogs
3 Mei 13:00 | Etensuurkonsert 1| (Gratis)
5 Mei 20:00| Gala-konsert 1 |Endler
6 Mei 16:30 |Gala-konsert 2 |Endler
10 Mei 13:00 |Etensuurkonsert 2 |(Gratis)
Die US Koor sal ’n derde Gala-konsert by die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow om 16:30 op 13 Mei aanbied.
Kaartjies, behalwe vir die twee gratis etensuurkonserte, is by Computicket beskikbaar.
Vanaf 29 Junie tot 15 Julie 2018 sal die US Koor deelneem aan die prestige-ryke wêreldkoor-eisteddfod, die Llangollen Internasional Musiek-eisteddfod in Wallis. Die koor sal na Wallis reis via Londen en Bath waar hulle genooi is om uitvoerings te gee.
Die Llangollen-eisteddfod is nie net ’n wêreldbekende koormusiekfees nie. Dit is ook ’n viering van die musiek, danse en kulture van nasies dwarsoor dié wêreld. Deelname aan dié fees is ’n geleentheid om talent aan ’n internasionale gehoor ten toon te stel en, ewe belangrik, om interkultureel te deel en waardevolle ervaring op te doen – nie net van die beste koormusiek wêreldwyd nie, maar ook om insae te kry in die kulture en waardes waarin daardie musiek gewortel is.
Ná hul terugkeer na Suid-Afrika later vanjaar, sal die US Koor as spesiale gaste deelneem aan die Interkultur Wêreldkoorspele in Tshwane.
Besoek https://youtu.be/WdnPAIFn32A om te kyk en luister na die Stellenbosch Universiteitskoor se uitvoering van hul bekroonde weergawe van “Say Something (I’m Giving Up On You).”
Vir verdere inligting, kontak Ulrike Vorndran, bestuurder van die US Koor, by woord@sun.ac.za of 084 951 8267.