USSO
17 September 2022 @ 8:00 pm - 10:00 pm
| R100 – R140Die Endler Konsertreeks bied graag aan: die Universiteit van Stellenbosch Simfonie-orkes (USSO) onder die stok van die internasionaal bekende Belgiese dirigent, Rik Ghesquière, op Saterdag 17 September om 8nm in die Endlersaal, Stellenbosch.
Die eerste deel van die konsert word gewy aan die musiek van Tsjaikofski, wat deur kollega-komponis Mili Balakirjef aangevuur is tot die komposisie van een van sy bekendste werke, die Fantasie-ouverture Romeo en Juliet, ‘n passievolle en verbeeldingryke voorstelling van Shakespeare se liefdestragedie.
Die tjello-dosent, hooftjellis van die Kaapstadse Filharmonie, en Direkteur van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, Dr Peter Martens, het geen bekendstelling nodig nie. Martens sal solis wees met Tsjaikofski se Variasies op ‘n rococo-tema, vir tjello en orkes. Die benaming verwys na die dekoratiewe kuns van die 18de-eeuse Rococo. Die samewerking tussen die komponis en sy Duitse tjellis-vriend, Wilhelm Fitzenhagen, asook Tsjaikofski se bewondering vir Mozart, het hy die idee gekry om vorendag te kom met ‘n oorspronklike (Mozartiaanse) tema, wat dan in sewe opeenvolgende variasies versier word. Die variasies is al beskryf as ‘n “ballet-mynveld” vir beide orkes en tjellis, vanweë die tegniese uitdagings, en die werk se musikale verband met Tsjaikofski se beroemde balletwerke.
Die tweede helfte sal in beslag geneem word deur Beethoven se Vyfde Simfonie. Die drif en opstandigheid enersyds, en fluweelagtige liriek andersyds, het meegebring dat die meer as 200 jaar oue werk een van die mees bekende simfoniese komposisies ooit geword het. As neerslag van onstuimige tye, en wroeging na vrede het Beethoven moontlik probeer aandui dat die oorkoming van probleme die mens se hoofdoelwit moet wees.
Kaartjies teen R140 (gewoon) en R100 (pensioenarisse, studente en skoliere) is nou beskikbaar by Webtickets, en by die deur, ‘n uur voor konsertaanvang. Vir meer inligting kontak Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.