Loading Events

Tjellis Zuill Bailey en pianis Bryan Wallick sal op Vrydag 27 Oktober om 20h00 onder die vaandel van die Endler Konsertreeks in die Endlersaal, Stellenbosch optree.

Zuill Bailey, wat wêreldwyd as een van die belangrikste jonger tjelliste geag word, is ‘n Grammy-wenner, en bekend as solis, musiekdirekteur en onderwyser. Sy kuns is ‘n rare kombinasie van kunstenaarskap, tegniese vaardigheid, faktore wat tesame met ‘n aantreklike persoonlikheid, het sy internasionale plek as gesogte tjellis verseker.  Sy medekunstenaar is die Amerikaanse pianis Bryan Wallick, in sig self ‘n voordraer wat deur resensente uitgesonder is as “virtuoos, briljant en intens”.

Die konsert sal begin met die Barokmeester Boccherini se tjellosonate in C-majeur, en gevolg deur Beethoven se vierde sonate, op.102 no.1 – ‘n lewendige en energieke werk uit die komponis se latere skeppingsjare.  Dan vervolg Bailey met ‘n werk van die tjellis-komponis Piatigorsky se Variasies op ‘n tema van Paganini. Die werk is opgedra aan ‘n verskeidenheid musici, wie se persoonlike styl Piatigorski op vindingrye wyses probeer oordra in hierdie sketse. Hierdie persoonlikhede sluit in die gevierde tjellis Pablo Casals, komponis Paul Hindemith, violiste Joseph Szigeti en Fritz Kreisler, en die legendariese pianis Vladimir Horowitz.

Na die pouse sluit die konsert af met Michael Daugherty se mees onlangse tjello-konsert, met die titel  Tales of Hemingway. Die concerto is ‘n poging om vier  klassieke  romans en ander verhale van Ernest Hemingway op musiek oor te dra.  Zuill Bailey het nou met die komponis saamgewerk in die komposisieproses, en het ook die eerste uitvoering daarvan in 2015 behartig.

Share This Story, Choose Your Platform!