Schubert se Winterreise
15 April 2021 @ 7:30 pm - 8:30 pm
| FreeDie sangafdeling van die Universiteit van Stellenbosch en die operaskool van die Kaapstadse Musiekkollege werk saam in ‘n uitvoering van Schubert se ikoniese liedsiklus Die Winterreise.
Die Winterreise-liedsiklus op gedigte van Wilhelm Müller is die uitbeelding van ’n man se pad deur ’n moeilike fisieke en psigologiese landskap van sneeu, ys en koue. Sy geestestoestand en sy worstelende soeke na rus word vasgevang in 24 aangrypende toonsettings wat heen en weer beweeg van vreugde na hoop na hopeloosheid. Die siklus loop ten einde met die beskrywing van ’n bedelaar wat vergeefs sy eentonige draailier-deuntjie in die koue speel.
Twaalf sangers van elk van die twee departemente sal een van die liedere sing, en sal ook elk ‘n sanger afrig oor ‘n lied uit die siklus. Schubert se ryk emosionele landskap sal musikaal en psigologies blootgelê word in ‘n opvoedkundige projek wat daarna streef om die kommunikasie van denke en emosie op die voorgrond te plaas in die opleiding van die jong sanger. Die studente sal begelei word deur die hoof van die Kaapstadse operaskool, komponis-pianis Jeremy Silver. Die uitvoering staan onder die leiding van die ervare opera- en verhoogdirekteur Christine Crouse.
Uitvoerings vind plaas in die Endlersaal, Stellenbosch, op Donderdag 15 April om 7:30 nm en in die Baxter konsertsaal in Kaapstad op Vrydag 16 April om 7:30 nm. Toegang is gratis maar bespreking is nodig. Skakel met Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 082 539 6025 vir meer inligting.